Uit die pen van die inwonende hoof – 2017

Die jaar is nou verby.

Dis Desember op Stellenbosch en die vol weke van gradplegtighede is agter die rug. Die verkeer se ritme is anders en parkeerplek is nou minder van ‘n probleem.

Die koshuis is gesluit. Verlede week nog het manne na die gradeplegtigheid hier aangedoen om ‘n foto voor die ikoniese gebou te kom neem. Of het ‘n pa ‘n draai kom maak om terug te dink aan sy dae in die koshuis. Nou is alles stil.

Oudergewoonte stap ek deur die leë koshuis aan die einde van die jaar. Dit is die beste tyd van die jaar om te besin oor wat was. Alles is leeg en die personeel is hard besig om skoon te maak. Dit is ‘n koue skoonmaak want dit neem op ‘n vreemde manier ook die gevoel van mense uit die gebou. Die reuk van verf en politoer en die leë kamers laat mens wonder of hier ooit ‘n week of wat gelede nog 280 inwoners was. Nie eers die skaatsplanke se klanke word die uitdoof gespaar nie.

Hier en daar is nog fotos teen ‘n yskas wat iets vertel van die jaar. ‘n MET-perdjie of twee staan langs ‘n deur en laat mens terug verlang na Februarie se energie. In baie kasdeure is daar nou ‘n nuwe naam, want 2017 het nog ‘n inwoner gebring na ‘n kamer waar geslagte voor hom gewoon het.

As die gange leeg is, het die suidoos ook meer ruimte om te waai. Dis asof hy nou reguit trek vanaf SBA3, deur die spelesaal, rigting SB3. En dan op en af by die trappe amper asok dit wil ontsnap. Ook die wind weet dat die jaar nou verby gewaai het.

Op SB1 en SBA1 word die hout-blokkiesvloer afgeskuur. Dit neem ‘n nuwe gedaante aan. Die eetsaal blink. In die mure vasgevang is die klanke van lepels wat klap en die woorde van ons huislied wat jou onwillekeurig na die berg laat soek.

Die klub en die braaiarea staan en bespied alles. Dis asof hulle nie weet wat om met hulself te doen nie. Daar is nie eers ‘n teken van die piano man nie. Maar die gras in die SBA-quad verraai die voete van Simonstock nog maar net enkele maande gelede. Om die koshuis staan een of twee motors en in die quads is daar nog ‘n paar fietse en motorfietse.

Dan besef mens dit. Die koshuis maak reg vir 2018. Want een van die dae kom daar ‘n nuwe geslag Simonsbergers om die Withuis hul huis te noem. 110 manne sal bevoorreg genoeg wees om hul stories hier uit te leef.

Oor enkele weke word hulle begroet met nog vinniger internet deur die nuwe wifi-punte, ‘n nuwe gryswatersisteem wat byna 50% van ons watergebruik sal verminder en ‘n kamermaat wat ‘n nuwe wêreld vir hom sal oopmaak.

 

Maar meer nog. Die koshuis maak reg vir ‘n geslag Simonsbergers wat elkeen sy plek sal kry en sal kan uitleef. Wat verstaan wat Noblesse Oblige beteken en wat ook oor drie of vier jaar terug sal kyk en weet dat die plek hom onherroeplik verander het.

 

Dr. Leslie van Rooi

Inwonende Hoof

Des 2017