Uit die pen van die inwonende hoof – 2020

Die jaar is nou verby.

Dis Desember op Stellenbosch. Die krismisrose blom, die suidoos woed en die sonbesies sing. En dit is tog goed dat hierdie merkers ons herinner aan iets normaal – min ander tekens van normaliteit het hierdie jaar geheers.

Die koshuis is besig om te sluit. Teen middel Maart 2020 het ons 280 inwoners gehad, enkele dae daarna so min as 15. En vanaf middel Julie en daarna darem weer so ongeveer 90 manne – elk in sy eie kamer met ‘n masker byderhand.

Diegene wat in die koshuis was en dié wie naby bly kon nog oudergewoonte hul afskeidsfoto’s voor die koshuis kon neem. Weliswaar nie op die dag van hul gradeplegtigheid nie. Maar vir my as Inwonende Hoof was dit tog lekker om te sien dat hier ‘n paar foto’s geneem was – ‘n foto voor ‘n ikoniese gebou, ons huis, wat jare se stories vertel.

Oudergewoonte stap ek deur die leë koshuis aan die einde van die jaar. Dit is die beste tyd van die jaar om te besin oor wat was. Dit is vreemd wat mens dan onthou, watter stories jou byval – die jare vermeng sonder grens.

Alles is leeg en die personeel is hard besig om skoon te maak. Dit is ‘n koue skoonmaak want dit neem op ‘n vreemde manier ook die gevoel van mense uit die gebou. Die reuk van verf en politoer en die leë kamers laat mens wonder of hier ooit mense in hierdie geboue was. Vir ‘n wyle is dit net die foto’s teen die Gys en die Molefe-eetsaal se mure wat herinner aan die 65 jaar van die koshuis te bestaan.

Hier en daar is nog foto’s teen ‘n verdwaalde yskas wat iets vertel van die jaar. ‘n MET-perdjie of twee staan langs ‘n deur en laat mens terug verlang na Februarie se energie. In baie kasdeure is daar nou nuwe name, want 2020 het nog ‘n inwoner gebring na ‘n kamer waarin baie voor hom gewoon het.

As die gange leeg is, het die suidoos ook meer ruimte om te waai. Dis asof hy nou reguit trek vanaf SB3, deur die spelesaal, rigting SBA3. En dan op en af by die trappe amper asof dit wil ontsnap. Ook die wind weet dat die jaar nou verby gewaai het.

Op SB1 en SBA1 word die hout-blokkiesvloer afgeskuur. Dit neem ‘n nuwe gedaante aan. Die eetsaal blink. In die mure vasgevang is die klanke van lepels wat klap en die woorde van ons huislied wat jou onwillekeurig na die berg laat soek.

Die Danie (sportklub) en die braai-area staan en bespied alles. Dis asof hulle nie weet wat om met hulself te doen nie. Daar is nie eers ‘n teken van die piano man nie. Maar die voor gras verraai die voete van manne wat kom groet het en manne wat nog vir oulaas dae gelede sokker of “touchies” kon speel. Dit is asof die suidoos nie hierdie spore weg kan of wil waai nie. Dit is goed so.

Om die koshuis staan een of twee motors en in die vierkante is daar nog ‘n paar fietse en motorfietse.

 

Dan besef mens dit. Die koshuis maak reg vir 2021. Die moeilike(r) en vreemde(r) groet in 2020 sal binnekort plek moet maak vir ‘n welkom in 2021. Want een van die dae kom daar ‘n nuwe geslag Simonsbergers om die Withuis hul huis te noem. 85 manne sal bevoorreg genoeg wees om hul stories hier uit te leef.

Maar meer nog. Die koshuis maak reg vir ‘n geslag Simonsbergers wat elkeen sy plek sal kry en sal kan uitleef. Wat verstaan wat Noblesse Oblige beteken en wat ook oor drie of vier jaar terug sal kyk en weet dat die plek hom onherroeplik verander het.

Ek wonder wat normaal in 2021 sal beteken. En wat die effek van 2020 was. Die ‘klein’ huisfoto teen die muur van die eetsaal sal ons tot in ewigheid herinner aan hierdie jaar – ‘n jaar wat ons van baie ontneem het. Maar op sy manier ook gegee het.

 

Leslie van Rooi

Inwonende Hoof

Des 2020