MET

met 02

 

DIE ONTSTAAN VAN DIE SIMONSBERG MET

Wessel Visser

Dit wil voorkom of die Met in 1961 ‘n voorloper gehad het toe die gedagte van ‘n sg. “Grand National” gedurende Hermann Giliomee se jaar as primarius van Simonsberg ontstaan het. Kwytgeskeld van baksteendril het 18 “perde” op Saterdagoggend 25 Februarie 1961 voor die Withuis hulle plekke ingeneem om deur wedders van nader beskou te word. Die “resiesbaan” is vooraf op 320 treë afgemeet. Van die deelnemers is verwag om agteruit te hardloop terwyl hulle ook bakstene moes dra. Pierre du Toit, ‘n eerstejaar teologiestudent, het die resies gewen.

Maar die Met(tropolitan), soos dit in sy huidige formaat bekend is, het na aanleiding van spesifieke omstandighede sy oorsprong gehad. Pietman Retief het dit dat eerstejaars ook in Wynand Greeff se primariusjaar, 1962, “perd gery” en buite die grense van Simonsberg daarmee beweeg het. Die universiteitsowerhede het egter beswaar gemaak teen hierdie “sielkundige teistering” en gevolglik is die Simonsbergers toe verplig om die perde net binne die grense van die koshuis te hou.

Gedurende die eerstejaardoop van 1963 is die Met toe deur die Huiskomitee van Jannie Engelbrecht, die primarius van daardie jaar, ingestel. Volgens Danie Schreuder was dit in reaksie op ‘n “meedoënlose vervolging” van Simonsberg se seniors deur die rektor van daardie tyd, prof HB Thom, weens onmenslike dooppraktyke waaraan eerstejaars onderwerp is. Aangesien die universiteitsadministrasie die koshuis verplig het om van hierdie praktyke af te sien, het die doopkomitee o.l.v. doopkaptein Gary (Koning) de Necker toe besluit om Simonsberg se eerstejaars eerder “sielkundig as fisies” en “sag en sonder geweld” te doop en hulle sodoende “op hulle plek te sit”.met 05

So is die gedagte van rietperde gebore. Diko van Zyl, HK-lid en redakteur van Die Simonsberger in 1963, verwys na die instelling van die “berede afdeling van die Withuis” en die “berede sotte” met hulle “rooi perde” gelei deur Jurgens Klu. Hierdie “berede afdeling” was glo nie net onder die Withuis-manne gewild nie, maar ook by die dameskoshuise en die publiek. Eerstejaars moes in die nag riete gaan steel en gedurende die daaropvolgende twee weke moes elkeen se meterslange rooigewerfde rietstok, sy “perd”, hom oral vergesel, nie net in die koshuis nie, maar wel ook klasse toe en wanneer dorp toe gegaan word. Volgens Diko van Zyl is die eerste parade deur die dorp ietwat deur konserwatiewe dames bederf toe beweer is dat dit darem te “vulgêr” was dat die manne die stokke se punte met dubbelhande tussen hulle bene vashou! Daarna het die perdejoggies opdrag gekry om met die stokke langs hulle sye te hardloop.met 01

Die twee weke sou dan afgesluit word met ‘n perderesies om die beste perd en ruiter aan te wys, volledig met deftig geklede gaste, ‘n “bookmaker” waar weddenskappe geplaas kon word en allerhande “side-shows”. Volgens Die Simonsberger van 1963 was Montand Engelbrecht die eerste wenner van die Met in ‘n tyd van 1 min. 8 sekondes (geen melding word van die omvang van die baan gemaak nie).

Gedurende die 1970’s het die Met algaande die belangstelling van die breër Stellenbosse studentepubliek begin trek en is dit gewoonlik op die derde Vrydagmiddag van Februarie aangebied. Teen die einde van die 1970’s het die US Karnavalkomitee selfs voelers na Simonsberg uitgesteek om die Met ‘n amptelike item van die jaarlikse karnavalprogram te maak, maar dit sou die geleentheid as ‘n unieke Withuis-tradisie in gedrang bring en is uiteraard van die hand gewys. Die jaarlikse modeparade het deftiger begin raak en dames wat daaraan deelgeneem het ook die oog vir die Mej. Matieland-kompetisie gevang.

Interessante en uiters humoristiese Met-temas het na vore gekom, soos die Trinity-flieks van Bud Spencer en Terence Hill van daardie jare, maar die “plot” het ook maar meer as gereeld in chaos verval. Die “sideshows” het al hoe wilder en gewaagder geraak. Die “Met-Vet”, wat elke jaar ‘n perd met ‘n “gebreekte been” uit sy ellende moes verlos, het al hoe bloediger (letterlik!) geraak, terwyl die “Met-Slet” se ontbloting van “haar” “geslagsdele” jaar na jaar ook al hoe meer grotesk uitgerafel het tot skok en afgryse van konserwatiewer toeskouers! Die feit dat groot drank- en sigaretmaatskappye gedurende die 1970’s met mekaar om die studentemarkaandeel gewedywer het, het borgskappe, veral wat alkoholiese drank betref, geredelik volop en beskikbaar gemaak. Dit het die Withuis meermale in die warm water by die universiteitsadministrasie en plaaslike kuierplekke laat beland, veral ook a.g.v. die feit dat toegang tot die Met-verrigtinge nooit eksklusief slegs vir Simonsbergers beheer kon word nie.

Gevolglik het die gevaar in die vroeër 1980’s al hoe groter begin raak dat die universiteitsadministrasie die Met permanent sou verbied. Met sy aanstelling as Inwonende Hoof van Simonsberg in 1988 het Danie Schreuder besef dat daar ten alle koste gewaak sou moes word dat die Met inderdaad afgeskaf word, juis omdat dit as sosiale instelling die potensiaal het om die band tussen oud- en huidige Simonsbergers te versterk. In samewerking met die destydse Studentedekaan, prof PG du Plessis, asook die koshuis self, is toe besluit om onder sekere streng voorwaardes met die Met voort te gaan. Die voorwaardes sou die volgende insluit:

Die eerstejaars sou jaarliks ingelig word oor die oorsprong en aard van die Met as ‘n eksklusiewe Simonsberg-tradisie. Vir hierdie doel het Danie ‘n paar 8mm rolprente van ‘n aantal jare se Met-byeenkomste van oud-inwoners bekom wat in die vorm van ‘n video aan die eertejaars gewys is. Die Met sou kon voortgaan, maar het geskuif tot ná die amptelike verwelkomingsperiode wat deur die Universiteit goedgekeur word sodat dit nie as deel van “doop” beskou kon word nie. Daar sou hoegenaamd geen dwang op eerstejaars wees om aan enige aspek van die Met deel te neem nie. Elke indiwidu het die keuse watter rol hy in die verrigtinge wou speel – as toeskouer, as kelner om eregaste te bedien, as deel van die sekuriteitspersoneel wat besoekers van die baan moes hou, of as perdejoggie.met 03

Daar sou elke jaar, net na aanvang van die akademiese jaar, ‘n volledige beplanning van alle aspekte van die Met aan die Kantoor van die Studentedekaan voorgelê word vir goedkeuring. Die Studentedekaan self, of sy verteenwoordiger, sou jaarliks as gas die Met bywoon. Elke jaar sou na afloop van die Met ‘n volledige nabetragting by wyse van ‘n verslag deur die Inwonende Hoof aan die Dekaan: Studentesake voorgelê word wat aanbevelings sou insluit van maatreëls wat getref sou word om probleme in die toekoms te voorkom.

Volgens Danie Schreuder het die “Moderne Met” (post-1988) tot ‘n parodie op die oorspronklike Met van 1963 ontwikkel en tot een van die grootste pretdae op die kampus as bywoningsgetalle in ag geneem word. So byvoorbeeld word “rietesteel” in samewerking met Kampusbeheer gereël en om die swierige kleredrag by die oorspronklike Met te gedenk, word jaarliks ‘n professionele modevertoning vooraf in die Neelsie gereël. Geen eerstejaar word ooit deur enige senior student beveel om klasse by te woon op hulle “perdjies” nie, alhoewel oorlewering tussen studente egter tot gevolg het dat ‘n paar brawe eerstejaars dit wel elke jaar doen.

Drankmisbruik was die grootste uitdaging wat die koshuisbestuur tydens die Met moes hanteer. Dit was problematies aangesien die koshuisbestuur op geen manier die drank wat besoekers aangedra het (waarvan daar jaarliks groot skares opgedaag het) kon beheer nie. Sedert 1998 word die Met weer deur talle oud-inwoners bygewoon waar bespreekte plekke spesiaal vir hulle ingerig word. Elke jaar is daar gesigte van oud-Simonsbergers sedert die stigting van die koshuis in 1956 by die Met. In 2003, met die 40ste herdenking van die Met, is ‘n spesiale optog gereël waar tien perdejoggies van die eerste Met van 1963 om die baan geparadeer is.met 04

Oor ‘n tydperk van 50 jaar het die Met, danksy die oorspronklikheid van Simonsbergers, daarin geslaag om tot ‘n volwaardige en absoluut unieke Withuis-tradisie te ontwikkel. Daarby het die Met oor tyd ‘n uitstaande en prominente tradisie van die breër Stellenbosse sosiale studentelewe geword en is bekend selfs vêr buite die grense van die kampus. Derhalwe verdien die Met dan ook ‘n volwaardige plek op die US-kampus waar studentepret soos van ouds nog beleef kan word en daar goedig die spot gedryf word met studente gebruike van vroeër.

Maart 2014

Nota

Hermann Giliomee is ‘n emeritus-professor in Politieke Wetenskap aan die Universiteit van Kaapstad en emeritus-professor in Geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy was van 1957 tot 1961 in Simonsberg en was in 1961 primarius.

Jannie Engelbrecht was een van die prominentste Springbokvleuels van die 1960’s en die eienaar van Rus en Vrede Wynlandgoed. Hy was in 1963 primarius.

Pietman Retief was onder-primarius van Simonsberg in 1965 en is ‘n stadsraadslid van Stellenbosch. Hy was van 1962 tot 1965 in die koshuis.

Diko van Zyl is ‘n emeritus-professor in Geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy was in 1963 ‘n HK-lid en redakteur van Die Simonsberger.

Wyle Danie Schreuder was ‘n professor in Omgewingsopvoedkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy was van 1963 tot 1965 in Simonsberg. Hy was die sewende Inwonende Hoof van Simonsberg (1988 tot 2005) en die eerste wat self ‘n produk van die Withuis was.

Wessel Visser is ‘n mede-professor in Geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch en naas Hermann Giliomee en Diko van Zyl die derde professor in Geskiedenis aan die US uit Simonsberg. Hy was van 1978 tot 1982 in Simonsberg en in 1981 en 1982 ‘n HK-lid.

Bronne

Briewe van Danie…En ander rare (maar waar) verhale en staaltjies uit die Withuis, 1956-2005. Simonsberg Jubileum Feespublikasie, Bond van Oud-Simonsbergers Reüniereëlingskomitee, 2005.

Die Simonsberger, 15 Maart 1963.

E-pos communiqué van Danie Schreuder, 2010.

E-pos communiqué van Pietman Retief, 2014.