Die stem van Gholf raak stil

DIE man wat gholf op die Afrikaanse senders van die radio en die TV laat leef het, se stem is stil. Willem van Drimmelen, advokaat, radio- en TV-kommentator, en kaptein van internasionale rugby- en krieketspanne, is Saterdag in Bela Bela (Warmbad) oorlede. Hy sou Woensdag 73 jaar oud geword het.Hy was ’n groot kampvegter vir uitsendings van die sportsoorte in Afrikaans. In ’n onderhoud verlede jaar met Volksblad het hy die vraag gevra: Waarom word daar so min Afrikaanse kommentaar oor die sportsoorte gelewer? Die vraag het onbeantwoord gebly. Hy is die man wat altyd gesê het hy speel gholf met verwagtinglose blymoedigheid.Nadat wyle Bosman de Villiers se boek Gholf saam met die Boere verskyn het, het Van Drimmelen hom beywer om Afrikaanse woorde vir al die gholfterme te kry. Hy het met die taal-indoenas van die radio en die koerante gesels en woorde geskep wat sprekend van Afrikaans was.So was daar ’n hewige stryery oor ’n Afrikaanse beskrywing vir ’n perfect fluke wanneer ’n speler die balletjie met ’n enkel hou van die bof af in die putjie slaan. Die koerantskrywers het met allerlei name gekom en Willem het hom die toorn van die FAK se mense op die hals gehaal toe hy dit ’n gatslag genoem het. Volmaakte gelukskoot was te lomp en eindelik het Willem met kolhou gewen.

Hy is in Turffontein in Johannesburg gebore en was ’n leerling aan die Hoërskool Fakkel en het in die Johannesburgse junior stadsraad gedien voordat sy ouers na Kimberley verhuis het. Hy was ’n goeie leier en was kaptein van Fakkel se eerste rugbyspan.

Ná skool is hy na Stellenbosch waar hy ook die Maties se o.19-rugbyspan aangevoer het. Hy het in die regte studeer.

Ná sy studentejare het hy eers by die SAUK gewerk voordat hy as advokaat begin praktiseer het. By die SAUK het hy onder meer in Nederland in Hilversum vir Wêreldomroep gewerk. Nederland het nogal ’n bruikbare rugby- en krieketspan gehad. Willem het in albei sportsoorte die nasionale span aangevoer. ’n Paar jaar nadat hy na Suid-Afrika teruggekeer het, het die land se krieketspelers hom na ’n geselligheid genooi en aan hom ’n ruiker oorhandig omdat hy “die beste kaptein was wat Nederland nog gehad het”.

Sy vrou, Rosa, ’n geesdriftige gholfspeler, is sewe jaar gelede oorlede. Willem laat ’n seun en twee dogters agter.

Die gedenkdiens word Saterdag om 12:00 by die Zwartkop-gholfklub naby Pretoria gehou.

 Willem van Drimmelen