SIMONSBERG 1956-2015: 60 GOUE JARE
‘n Groot dankie aan al die manne wat van heinde en verre gekom het en op die Eikestad, en meer spesifiek, die Withuis toegesak het vir ‘n paar dae wat ons almal weer teruggeneem het na daardie lieflike en sorgevrye studentedae… daardie vakansie tussen jou ma en jou vrou.
Daar was 400 oud-Simonsbergers by verskeie aktiwiteite betrokke tydens die reunie en daar was verseker nie ‘n tekort aan stories, grappe en glasies wat geklink was nie. Dit was veral aangenaam om ‘n groot verskeidenheid van manne teenwoordig te kon hê van elke era en te sien hoe die goue draad van die Simonsberger-identiteit manne oor vele generasies saambind. Van die eerste inwoners van die Withuis in 1956 tot die huidige HK en Senaat-inwoners kon saam gesels en met verwondering en genot na mekaar se stories luister. Daar het maar min dinge verander…
Finansieel het die reunie gelukkig ook nie die koshuis of die Bond van Oud-Simonsbergers in die negatief gelaat nie. Die Bond se bankrekening het so net-net beter gedoen as gelykgebreek en die Simonsbergfonds het tydens die veiling Saterdagaand R122,000 ingesamel. Hierdie fonds is in 2012 staangemaak en het al sedertien goed gegroei, en ook al ‘n paar merietebeurse aan behoeftige Simonsbergers en kapitale verbeteringe in die koshuis befonds.
Indien jy wil of kan bydra tot die fonds, laai af deur op onderstaande skakel te kliek. Dit kan in die vorm van eenmalige skenkings of maadelikse aftrekorders wees, en die universiteit sal jou ook kan voorsien van ‘n 18A sertifikaat vir belastingaftrekking van die skenking. Die skenker kan aandui of sy skenking aangewend word vir kapitale groei van die fonds, beurse of verbeteringe aan die koshuis se infrastruktuur.
Indien jy ‘n huidige skenker is aan die Universiteit, is dit ook moontlik om jou skenkings na die Simonsbergfonds te verander. As Bond van Oud-Simonsbergers is dit ons mediumtermyn visie om die fonds se kapitale basis te groei na ‘n bedrag van ten minste R1m, waarna die fonds aktiveer en die jaarlikse opbrengs aangewend kan word vir beurse, sonder om die kapitaal te erodeer.
Die fonds staan tans op ‘n bedrag van R312,293 en word deur die Universiteit se fondsbestuurkomitee bestuur. Indien die fonds tot groter as R500,000 sou groei, sal dit moontlik wees om die bestuur van die fonds van die Universiteit se platform na ‘n platform van ons keuse te verskuif. Die jaarlikse uitkerings van enige bedrae uit die fonds word deur ‘n paneel van die volgende persone goedgekeur en bestuur: Die Inwonende Hoof, die Primarius, die Oud-Bond Voorsitter en die US se Koordineerder van Individuele Skenkings.
Almal van ons wil iets teruggee, hierdie is ‘n goeie plek om te begin.
‘n Elektroniese weergawe van die Simonsberger se Reunie Uitgawe, vir ingeval jy dalk nie een in die hande kon kry nie, is beskikbaar by die link.
60jr Reunie Simonsberger Uitgawe
Ons is almal dankbaar dat reunies net elke 5 jaar is. Sien julle manne volgende jaar by die Met, en dan weer oor 5 jaar vir die 65ste!
Besoek ons webtuiste by https://simonbond.org.za of ons Facebook blad vir enige Koshuis of Old Boy nuus….
Registreer asseblief op die webtuiste sodat ons jou kontak details kan kry vir toekomstige korrespondensie.
Die Adeldom Stel Verpligtinge
Alex Volkwyn
Namens die Bond van Oud-Simonsbergers